Working from Home | Werk vanaf die huis

Die virus!

Goed, ek dink ons is nou almal bewus van die situasie rondom die Korona-virus / Codvid-19, asook die histerie wat in Suid-Afrika ontplof het in die vorige maand.  Ek is seker ek is nie die enigste persoon wat net gou winkel toe is om waspoeier te gaan koop, net om te besef die winkelrakke is leër as wat dit was met Kersfees nie.

Ek wil graag met hierdie meningstuk, lesers verwys na goeie bronne om jou te help om hierdie nuwe situasie te oorleef. Ek is self in ‘n posisie waar ek vanaf die huis moet werk (Alhoewel, hoe leer jy studente ‘n taal praat en tutor leerders sonder persoonlike kontak….. hmmm.) Ek hoop van die raad en verwysings is jou van hulp in hierdie ongewone tyd. Mag jy en jou geliefdes nog baie stories hieroor kan vertel.

Studie wenke

Hier is die waarheid – as jy gedink het om klas te loop op universiteit of om skool toe te gaan is erg, en jou motivering is min – gaan jy ‘n nuwe ding sien kopuitsteek. Jy gaan lui wees na die verlengde Paasvakansie en jy hoef nie vroeg op te staan om die bus of trein te haal nie. Die ander mense met wie jy jou huis deel, familie of huismaats, gaan nie noodwendig dieselfde rotiene as jy volg nie.

 

Roetine

Ja, dit klink afgesaag en jy dink seker ek kerm nou in jou ore, maar dit werk! Sodra jy ‘n roetine vasgelê het, voel dit nie soos ‘n doodstraf om iets te doen nie. Die geheim lê daarin om klein te begin en geleidelik jou roetine uit te brei.

‘n Baie interessante boek, sou jy belangstel om te verstaan waar en hoe gewoontes gevorm word, Charles Duhigg se The Power of Habit    

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hy verduidelik op ‘n baie verstaanbare manier hoe ons breine gerat is om ‘n beloning te verwag wanneer sekere take uitgevoer word.  Hierdie boek het my nogal baie gehelp om van my slegte gewoontes ontslae te raak.

Disipliene

Dit is seker die nodigste en die moeilikste aspek daarvan om van die huis af te werk. Sonder disipliene gaan jy nie jou roetine volg nie. Verbeel jouself dat jy ‘n Sims-mannetjie (of vroutjie) is en jou baas, of wie ookal vir jou gereeld aanspreek as jy bietjie slaplê, hou jou dop. Vir my swaai dit maar tussen my ouma en my ma. Verbeel jou hierdie persoon is bewus van jou doen en late – dit sal beslis vir jou motivering gee om nie net alles te laat gaan nie.

Thomas Frank van College Info Geek (CIG)is die beste man om by aan te klop oor alles wat produktiwiteite, self-dissipliene en motivering behels. Hier is 2 video’s wat ek kan aanbeveel:

How to be more DISCIPLINED – 6 Ways to Master self control

How to build Self-Discipline – My #1 Exercise

 

Werk- ‘n kopskuif

Jy moet in jou kop vir jouself sê – “ek werk van die huis af en dit beteken: werk hard, speel hard”. Dit is die punt waar jy wil uit kom en ‘n goeie doel wanneer jy gedwing word om van die huis af te werk. ‘n Baie goeie uitdrukking doen die laaste maand die rondte op die internet:

Jy werk nie van die huis af nie, jy is by die huis en probeer werk, omdat die hele wêreld tans ‘n pandemie ervaar.

Dit beteken nie dat jy onmiddellik gaan voel asof jou hele werk situasie nou na jou huis verskuif het nie. Jy gaan waarskynlik nie so produktief wees nie. Jy sal dinge anders moet begin doen om by daardie goeie doel van jou uit te kom.

Hoe ek hiermee probeer worstel is, dat jy ‘n boksie in jou brein het vir werk en ‘n boksie vir persoonlike goed.  Dit is werklik ‘n kopskruif en so moeilik soos dit is om te doen, sodra jy jou roetine gevestig het, raak dit makliker. Ek sê nie jy moet dit so doen nie, maar dit is wat vir my werk op die oomblik.

Stress

Nes by die kantoor, skool of  werksplek sal die stress elemente daar wees. Dit mag dalk net anders lyk. Jy mag vind dat die mense saam met wie jy woon, jou grensloos irreteer en goed doen wat jy nie vroeer opgelet het nie.

‘n Goeie voorbeeld is dat jy dalk video of oudio moet opneem en jou huismense verstaan nie dat dit beteken GEEN geraas nie. Insluitende – MOENIE DIE AGTERDEUR TOESLAAN AS JY ASDROM TOE LOOP NIE! Desnieteenstaande gaan die dinge gebeur.

Die geheim lê daarin om jou stress te bestuur, nie te beheer nie, maar te weet hoe om dit te ontlaai. Oefening is seker die beste opsie, want nie net raak jy ontsla van jou stress en frustrasie nie, maar dit is goed vir jou. Ander maniere is asemhalingsoefeninge, om na musiek te luister wat jou kalmeer -of dit nou Metalica of Chopin se Reëndruppel Prelude is. Vind dit wat jou laat voel die elektrisiteit verlaat jou gebeendere.

Motivering

Dit is almal se slaggat! Daar is niemand wat agter jou gaan staan en met dreigemente vir jou motiveer nie. Motivering is hier nie die mooi fluffy konsep wat insperasie vir jou oproep en jou lus maak vir werk nie – dit is letterlik die motivering wat jou dryf om uit die bed te klim, want anders is die hel los. Dryfkrag met ander woorde.

Wat ek die laaste ruk vind vir my werk, is om die oomblik wat ek gaan koffie maak of belsuit ek moet nou opstaan, my klere aan te trek. Dit skop my brein in rat en keer dat ek weer in die bed wil klim. So dit is nie regtig motivering nie, maar ‘n klein gewoonte wat die eerste draai van die wiel woema gee om te draai. Jy kan dus begin klein gewoontejies kweek wat jou sal help motiveer – lees Charles Duhigg se boek!

Ek kan nie genoeg The Power of Habit aanbeveel nie. Dit verander hoe jy dink en om anders te begin dink, beteken dat jy stadig maar seker begin aanvaar dat ALLES gaan verander….

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Powered by WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: